Stilbaai Tandarts

Hoogs ervare professionele

Tandheelkundige Dienste

My tandarts het gesê ek moet ‘n kroon kry. Ek was soos in “Nou praat jy!”

Algemene Sorg

Ons behandel jou tande op die beste, gemaklikste en mees pynlose manier in ons vermoë.

Gereelde skoonmaak van tande help voorkom tand- en tandvleisprobleme. Tydens die skoonmaakproses krap of skraap ons plaak- en tandsteenaanpaksels af. Daarna poleer ons die tandoppervlaktes om dit glad en sonder vlekkies, kleiner oneweredighede, defekkies en rowwe plekkies te maak sodat die tande weer helder en blink vertoon.

Kunsgebitte (valstande) kan om verskeie redes breek, kraak of gedeeltes kan afsplinter. Ons kundigheid is byderhand om dit deeglik en vining te herstel.

Afhangende van die spesifieke geval kan addisionele tand/e aangelas word by ‘n bestaande plaatjie.

Ons maak gebruik van ‘n tandkleurige harpuismengsel om gebreekte of beskadigde tande te herstel. Tydens hierdie prosedure gebruik ons die harpuismengsel om, deur die grootte, vorm, asook die kleur van tande te verander, dit weer mooi te laat vertoon.

Ons gebruik dieselfde proses om matige gevalle van blootgestelde tandnekke te behandel.

Ons verskaf die nodige apparaat met noukeurige instruksies om bleiking tuis met verantwoordelikheid te behartig.

Ondersoek & Diagnose

Voordat ons regtig aan jou tande kan werk, moet ons eers die oorsaak van die probleem vasstel.

Ons doen ‘n volledige ondersoek om vas te stel of jy enige tandprobleme het. Tydens die ondersoek is ons op die uitkyk vir dinge soos bv. swelling of rooiheid van die tandvleis en mondsere, asook tekens van knersing soos krakies. Ons kyk ook of die bo- en onderkaak in lyn is sodat jy reg byt. Gereelde ondersoeke kan natuurlik help om tandbederf, tandvleissiektes en selfs orale kanker te voorkom, deurdat ons betyds probleme identifiseer en oplos.

Ons gebruik mond x-strale om die gesondheidstoestand van jou mond te evalueer. Net soos borsel en flos, is gereelde x-strale eintlik ook ‘n integrale deel van tandgesondheid as geheel. Met so ‘n x-straal kry ons ‘n beeld van die binnekant van tande en tandvleis, en kan ons probleme soos gaatjies en tandbederf identifiseer. Daar is twee kategorië mond x-strale, intra-oraal (binne die mond), en ekstra-oraal (buite die mond).

Met ‘n panoramiese x-straal kry ons ‘n geheelbeeld van jou mond. Die masjien draai om jou kop en gee ons ‘n twee dimesionele, oor-tot-oor beeld van sowel die bo-, as die onderkaak. Ons gebruik dit tipies om verstandtande en kaakprobleme te ondersoek, implantate te beplan, siste, groeisels, tumors, en so meer te identifiseer.

Soorte Gebitte

Vasgesit of verwyderbaar, gedeeltelik (vervang ontbrekende tande) of kompleet (vervang al die tande)

Akriel kunsgebitte is kunstande wat aan ‘n akriel basisplaat vasgeheg is en wat uit die mond gehaal kan word. Hulle wissel van gedeeltelike gebitte tot volledige stelle kunstande. Hierdie beproefde koste-effektiewe metode bied ‘n meer bekostigbare alternatief tot dentale implantate.

Ons gebruik ‘n dentale brug om ‘n gaping waar een tand of meer ontbreek, permanent te vul met ‘n kunstand(e). Die kunstand(e) word vasgeheg aan die tande weerskante van die tandgaping, meestal deur ‘n kroon op die stuttande (of implantate) te plaas met die kunstand tussen hulle.

‘n Chroom kunsgebit is gewoonlik ‘n gedeeltelike gebit of ‘n een tand gebit met ‘n metaalraamwerk wat die kunstand ondersteun. Die chroom gebit word gewoonlik deur die oorblywende tande ondersteun sodat dit behoorlik in plek kan bly. Dit word so ontwerp dat dit nie bemerk kan word as dit eers in die mond is nie en word gemaak om presies in jou mond te pas. Kobalt-chroom is ‘n mediese goedgekeurde ligte allooi en omdat die metaal duursaam, sterk en lig is, is die gebit baie dun en gemaklik om te dra.

Ons gebruik ‘n dentale kroon om ‘n swak, gebreekte of verrotte tand te herstel. Dit is ‘n doppie in die vorm van ‘n tand wat bo-oor ‘n tand gesit word wat hom weer sy vorm, grootte en sterkte teruggee. Sulke krone word meestal gemaak van porselein, maar ander materiale word ook gebruik soos metaal, keramiek, sirkonium, en so meer.

‘n Dentale kroon op ‘n implantaat is ‘n kunstand wat ons in die kakebeen of wangbeen vas sit wat net so sterk en duursaam is as ‘n regte tand. Ons plant dus ‘n kroon op ‘n implantaat wat in die kakebeen ingeskroef is

Tandheelkundige Prosedures

Dit sluit alle tandheelkundige werk wat ons as tandartse, fisies in jou mond doen, soos ekstraksies en die vul van gaatjies.

Ons gebruik ‘n dentale brug om ‘n gaping waar een tand of meer ontbreek, permanent te vul met ‘n kunstand(e). Die kunstand(e) word vasgeheg aan die tande weerskante van die tandgaping, meestal deur ‘n kroon op die stuttande (of implantate) te plaas met die kunstand tussen hulle.

‘n Dentale implantaat is ‘n metaal pen wat die tandwortels vervang, wat ons chirurgies in die kakebeen inskroef of inplant. Kunstande soos krone of brûe kan dan op die inplantaat vasgeheg word, bv. om ‘n verlore tand te vervang. Dit staan op sy eie en lyk soos ‘n natuurlike tand.

CEREC staan vir Chairside Economic Restoration of Esthetic Ceramics. CEREC-krone word geheel en al van porselein gemaak en word op dieselfde dag gedoen (in die stoel), m.a.w. daar is nie ‘n wagtyd nie. Ons neem verskillende skote van die tande en tandvleis wat die rekenaar bymekaar sit om uiteindelik ‘n 3-dimensionele afdruk te skep. Ons gebruik hierdie afdruk om die permanente kroon te maak en die hele proses neem ongeveer twee ure.

Gaatjies is die algemene vorm van tandverrotting wat pyn en ongemak kan veroorsaak. Simptome van gaatjies is gewoonlik sensitiwiteit vir warm of koue kos of drank, soet eetgoed, pyn as jy kou, of tandpyn, veral as jy eet. Verdere bederf van so ‘n tand kan gekeer word deur die tand te stop, d.w.s om die gaatjie op te vul sodat geen kos in die gaatjie kan ingaan en verdere verrotting veroorsaak nie.

Soms beskadig die sagte binnegedeelte of pulp van ‘n tand of dit raak ontsteek. In sulke gevalle verwyder ons die ontsteekte pulp, maak die binnekante van die tand skoon en ontsmet dit. Daarna plaas ons ‘n vulsel in die binnedeel van die tand. Hierdie proses word na verwys as ‘n wortelkanaal.

As ‘n tand so erg bederf het dat ons dit nie meer kan behandel nie, moet ons dit trek. Omdat so ‘n tand heeltemal sigbaar is, kan dit maklik bygekom word. Ons verdoof eers die area rondom die tand behoorlik, daarna wikkel ons dit los en dan trek ons dit uit. ‘n Ekstraksiewond genees maklik en vinnig en benodig nie eintlik spesiale nasorg nie.

Ons verwyder tande afgebreek het, of wat nie uitgekom het nie, bv. verstandtande, d.m.v. chirurgie. Dit doen ons onder lokale verdowing of onder narkose. Eers maak ons ‘n snytjie in die tandvleis sodat ons die tand kan bykom, en verwyder dan die hele tand, of breek dit in kleiner stukkies tot dit heeltemal verwyder is. Na hierdie prosedure is dit belangrik dat ‘n pasient ons nasorgvoorskrifte nakom.

Verwysings

Sommige tandprobleme moet behandel word deur ‘n tandarts wat aanvullend opgelei is t.o.v. ‘n spesifieke gebied in die tandheelkunde.

Sommige tandprobleme vra gespesialiseerde kennis en vaardighede waaroor ons as algemene tandartse nie beskik nie. In sulke gevalle verwys ons jou graag na tandheelkundige spesialiste, soos ‘n ortodontis wat onreëlmatigheid van tande herstel, meestal m.b.v. draadjies. Of ‘n prostodontis (prostetiese tandheelkundige), endodontis (wortelkanaalspesialis), periodontis (tandvleisspesialis), pediatriese tandarts (kinders), en nog meer.

Glimlag met Vertroue

Maak erns met die versorging van jou tande, dan kan hulle jou lewenslank dien.
Kweek die gewoonte aan om ons elke ses maande vir ‘n roetine ondersoek en professionele skoonmaak te besoek.

Scroll to Top